VOOR IN DIE KOOR: Wie is hierdie God?CHRIS CHAMELEON - 23/12/2007 10:51:13 PM - (SA)
WIE is hierdie God van wie julle so praat? Wie is hierdie God wat
kinders kaal in die strate laat loop met een hand op die maag en
die ander op die mond? Wat aasvoëls agter kinders aan voor
kanonne laat aansit vir die maal?
Wie is hierdie God wat vliegtuie in geboue vas laat jaag en dan
skaapwagters flenters blaas? Wie is hierdie God wat altyd wyser
is, altyd beter weet?
Wie is hierdie God wat al Afrika se regerings bewillig het?
Wie is hierdie God sonder wie se wil geen gif bedink word nie?
Wat seuns van hul pa’s vervreem en dogters hul moeders laat
verag?
Wie is hierdie God wat skilpaaie in veldbrande laat vrek? Wat
pes en plaag en MIV toelaat?
Wie is hierdie God wat alles tel, wat alles weet, ook hoeveel
geld daar is en wie dit het en waarom? Onder wie se toesig
sommige te veel het, baie te min en sommige geen?
Wie is hierdie God wat 15 rugbyspelers laat wen en die res
van die wêreld laat verloor? Wat die woord wat ’n oorlog
bestel op televisie, oor die radio en in koerante toelaat, en
die woord van een man se vrye denke in
By verbied?
Wie is hierdie God in wie se naam daar jare lank onderdruk
word, en wat dan die bordjies verhang?
Wie is hierdie God wat elkeen ’n ander deel van Hom laat sien,
en hulle mekaar dan laat doodmaak oor dit wat die ander nié
in Hom sien nie?
Wie is hierdie God wat skepsels van sy eie ontwerp teen
mekaar laat haat praat en wedersyds die gees en liggaam
martel?
Wie is hierdie God wie se ewebeeld die liefde verloën? En die
liefde verraai . . . Sy grootste gawe so dikwels verwronge
gelaat deur die gevolg van Sy almagtige toestemming,
daarstelling en verlaat, o verlaat?
Wie is hierdie God wat die antwoord op elke vraag ken en
soms gee – en soms nie?
En
wie is hierdie God wat die vuur op die einder van ’n
Hoëveldoggend bestel? Wat elke sekonde van die Karoo se
vreedsaamheid, enige tyd, daagliks, getrou toesien?
Wie is hierdie God wat vir die musikant die sleutel tot die hart
gee? Wat die kinders so laat lag? En wat weet wanneer die
voëltjies by die bak gaan kom sit?
Wie is hierdie God wat twee miljoen jaar gelede al geweet het
hoe jou dogter vanoggend jou hart sou laat lag, dit tóé al
bepaal het?
Wie is hierdie God dat Sy naam deur dié wat al die langste
met die wete van sy bestaan op aarde leef, Hom nooit by die
naam durf roep nie?
Wie is hierdie God wat lug en die son gun aan dié wat Hom
haat, in gelyke mate met dié wat Hom daarvoor bedank?
Wie is hierdie God wat glimlagge aan die armes van gees
skenk? Wat die hart heel waar dit stukkend gebreek is?
Wie is hierdie God wat bó die begrip van die filosoof, die uiting
van die kunstenaar en die ontwerp van die argitek verkeer,
maar dan ’n kind laat begryp?
En
wie is hierdie God wat in sy naam laat red, moor, haat, lag,
steel, breek, min, dien en slaap?
.HIERDIE God is nie soos ons Hom beskryf nie, maar ons pogings
daartoe het al tot van die wêreld se grootste kuns gelei.
Hy is nie die God wat ons ooit volkome kan besing nie, maar
ons kry lekker en voel nader aan Hom wanneer ons probeer.
Hy is nie die God waaroor ons stry nie – ’n argument wat nog
nooit deur enigiemand gewen is nie.
Hy is nie die God wat ons in strokiesprente verkleineer nie. Hy
is nie die God wat die VSA straf of die God wat Irak regsien nie.
Hy is nie die God wie se naam gekaap kan word vir persoonlike
gewin nie. Want hierdie God ontwyk alle definisie of bewoording.
Hy word genoem God, Allah, chaos, oerknal, toeval, Sy, Shiva,
ensovoorts, maar is altyd minder of méér as wat gesê of gedink
kan word.
Ek vertrou nie iemand wat sê dit of dat is God se wil nie, want
ek vermoed hy wil sy wil aan my opdwing. As iemand sê God
dink dit of dat, dan wil ek weet waar hy sy begrip van God se
denke kry. As iemand vir my sê God haat dit of dat, wonder ek
of die God van die liefde haatdraend is. As iemand vir my sê God
is jaloers, wonder ek of jaloesie kan bestaan vir Een aan wie alles
behoort.
En iemand wat namens God oordeel, het êrens duidelik die pad
byster geraak oor waar die perke van sy gesag le.
Persoonlik vra ek God niks nie en dank Hom daagliks. Ek betwyfel
nie die grensloosheid van Sy genade nie.
En ten slotte: As jy vir my kan sê wie hierdie God is, dan weet ek
dit is beslis nie Hy nie.
Die Burger