Sparkling Sparklers
Would you like to react to this message? Create an account in a few clicks or log in to continue.


'n Vriendelike Veeltalige Internasionale Bymekaarkomplek
A Friendly Multilingual International Social Meeting Point

 
HomeHome  GalleryGallery  SearchSearch  Latest imagesLatest images  RegisterRegister  Log in  

 

 ALLEENHEIDSLIEFDE

Go down 
AuthorMessage
Guest
Guest




ALLEENHEIDSLIEFDE Empty
PostSubject: ALLEENHEIDSLIEFDE   ALLEENHEIDSLIEFDE EmptyMon Dec 17, 2007 10:58 am

Kamblaser se note van Bo aangegee


11/12/2007 09:03:12 AM - (SA)

DIT was mos prof. Pieter Grobbelaar van die
departement Afrikaanse kultuur- en volkskunde op Stellenbosch wat gesê
het: “’n Volk se kultuur is nes ’n skoenlappervlerk: ’n oneindige
verskeidenheid kleure en vorms . . .”

Natuurlik geld dit ook ons musiekskat, veral wat die
musikante in die onderskeie streke se voorkeur-instrumente (en
kombinasies daarvan), soorte wysies en ritmes betref. Party in
Namakwaland verkies die kitaar; ander die blikviool. Party dans die
riel; ander die Nama-trap of jakkalsdraf.

Maar om ’n doodgewone kam in ’n plastieksakkie toe
te vou en dan daaruit die wonderbaarlikste saksofoonagtige deuntjies op
te tower?

Om Sondae – by gebrek aan ’n orrel of ’n klavier –
’n stampvol kerk op jou kam en broodsakkie te begelei? Om verstaanbare
redes was dit vir my ’n bietjie dik vir ’n daalder toe ek die storie
die eerste keer op Vanrhynsdorp gehoor het. Desnieteenstaande het ek
besluit om, wanneer ek my weer in daardie geweste bevind, die nodige
ondersoek te gaan instel.

Die knoppiesopslag en die gans­ogies het nog geel
gestaan toe ek die afdraaipad na Maskamsig en sy mense vat. Hier en
daar het selfs nog ’n late hongerblom in die Oktoberson gestaan en
huiwer.

Maskamsig lê so 2 km buite Vanrhynsdorp, langs die R27 op pad na Nieuwoudtville.

Heelwat ouer mense woon hier; só sou ek spoedig
ontdek. Mense met ’n leeftyd se ervaring en die mooiste stories. Hoe
hulle vroeër raakvatters op verskeie plase in die omgewing was en as
skaapwagters “byna ’n hele kudde uit die kloue en kake van ongediertes
moes red”.

Hoedat ’n leeftyd in die veld hulle geleer het om
iets uit byna niks nie te kan prakseer. Soveel en soveel brode uit ’n
sak meel. Medisyne van hierdie en daardie bos. ’n Viool uit ’n gifblik
en ’n stukkie plank. En, soos wat ek verneem het, ’n saksofoon uit ’n
stukkie plastieksak en ’n outydse kam.

Cornelius Afrika is die naam wat ek in my notaboekie
neergeskryf het. Hy is ’n kamblaser van die Maskam. Of Skilpad, soos
die mense hom glo hier rond noem. Ek verneem na Cornelius se woonplek
waar hy in die agterplaas van familie bly, maar kom voor die
spreekwoordelike dooiemansdeur te staan. “Nee kyk, Meneer, ou Skilpad
loop maar bedags ’n bietjie baie rond,” vertel ’n omie my. “Hy’t mos
die alleenliefde: So in die stilligheid het hy die vroumense alte
inniglik lief, maar gesê kry hy dit mos nooit vir hulle gesê nie. Nou
loop en speel hy maar vir hulle so op sy broodsakkie en sy kam.”

Die oompie bied aan om saam te ry om Cornelius te gaan soek.

By elke huis wat ons aandoen, kry ons dieselfde
boodskap: Skilpad was wel vroeër die oggend daar, het ’n paar
Kersliedere gespeel en darem ’n paar woorde kon gesels, maar toe weer
sy kam gevat en aangestryk.

Uiteindelik kry ons hom aan die ander kant van die
dorp, waar hy en ’n akkordeonspeler, ene Johannes Skippers, en ook ’n
kitaarspeler, Syster Meintjies, ’n groepie mense op geestelike liedere
trakteer. Van die vroue en kinders neurie in verskeie stemme saam.

Ek hou stil, stap nader, stel myself bekend en word dan vriendelik ’n stoel in die skadu aangebied.

Cornelius en sy “orkessie” val weg met “Die Here se
naam is wonderbaar” en volg dit dan op met “Amazing Grace”. Hierop volg
“Stille Nag” en ’n keurspel bekende Kersliedere. “Ek het hom so geleer
speel lat ek by die jeug kon uitkom,” vertel Cornelius later toe hulle
eers ’n bietjie asemskep.

“Die VGK se Jeugaksie. Die vallende siek het my mos
kleintyd só gehad lat ek nie kon skoolgaan nie. Bitterlik, bitterlik
alleen was ek daai tyd mos gewees. Toe vra ek die Here lat Hy my moes
kom help. Al kon ek nie lees en skrywe nie, wou ek darem ôk iets vir
Hom betekent. Lat ek ôk ’n bietjie kon uitstaan en vir Hom kon naam
maak hier rond. Dis toe lat die Here hom vir my kom aangee: hier’ie ou
swart kam. Lat ek op hom kon beginne blaas. Lat ek ôk jongmens kon
wees. En lat ek ôk vir Hom van waarde kon wees.

“Ek was nou nie so slim lat ek die note almal
opgevang kon kry nie, maar ek het darem só geleer lat ek kan speel en
lat ek God se Woord in my het.” Dan vra ek: “En jou pa en jou ma? Leef
hulle nog?”

“My ma en pa is dóúrie tyd al oorlede,” antwoord
Cornelius toe. “Ek was maar nog jonk toe my mamma afgesterwe het. Net
tien jaartjies oud was ek gewees.

“My pa het nog lank gelewe, maar hy het nie só
gelewe lat hy vir ons kon sôre nie. Ek en my kam het hom darem later op
Saldanhabaai loop begrawe. Daar het hy mos gewerk. Op die see. Op sy
begrafnis het ons vir hom loop speel. Om darem dankie en totsiens te
sê.”

“En het jy toe hiér, hier op Vanrhynsdorp,
grootgeword? So sonder ’n ma of ’n pa?” wou ek weet. “Ja, al die tyd
was ek maar hier op Vanrhynsdorp gewees. By my oumas. By hulle het ek
mos grootgeword. En so het ek maar bedags my kam gevat en hier deur die
veld geloop en speel.”

Op die vraag watter raad hy vir mense het wat ook
graag die kam sal wil bespeel, antwoord Cornelius só: “Kyk, jy vat hom
net so en dan sit jy hom hier langs die kant van jou mond. Hier druk jy
hom vas. Dan blaas jy. Dan vat jy die note soos wat dit van Bo af vir
jou aangegee word. Dan kom jy reg. Dan blaas jy die regte klanke uit.
Dan sukkel jy glad nie.”

Cornelius Afrika, die kamblaser van die Maskam,
trek-trek eers aan die plastieksakkie om sy kam, druk dit stewig vas
teen die kant van sy mond en val dan weg met ’n byna vergete lied uit
my kinderjare: “By Betlehem in winterkou, het herders rustig wag gehou;
’n engel swewe oor die veld, die Heer se koms kom hy vermeld . . .”

En skielik, tussen geel gansogies en blou
hongerblom, word hierdie dag toe vir ons ’n fees: ’n klein bietjie
Kersfees in Oktober!


Last edited by on Mon Jan 21, 2008 7:05 pm; edited 1 time in total
Back to top Go down
Guest
Guest




ALLEENHEIDSLIEFDE Empty
PostSubject: Die Kamblaser   ALLEENHEIDSLIEFDE EmptyMon Dec 17, 2007 11:00 am

ALLEENHEIDSLIEFDE Ratelgat%20en%20Boesmanland%20September%202007%20095--297x250
Back to top Go down
Guest
Guest




ALLEENHEIDSLIEFDE Empty
PostSubject: ...   ALLEENHEIDSLIEFDE EmptyMon Dec 17, 2007 11:02 am

Foto: PIETER STRAUSS
Back to top Go down
Guest
Guest




ALLEENHEIDSLIEFDE Empty
PostSubject: Click on the link   ALLEENHEIDSLIEFDE EmptyMon Dec 17, 2007 11:10 am

Back to top Go down
Sponsored content





ALLEENHEIDSLIEFDE Empty
PostSubject: Re: ALLEENHEIDSLIEFDE   ALLEENHEIDSLIEFDE Empty

Back to top Go down
 
ALLEENHEIDSLIEFDE
Back to top 
Page 1 of 1

Permissions in this forum:You cannot reply to topics in this forum
Sparkling Sparklers :: Sparkling Sparklers Forums :: Inspirerend - Inspirational-
Jump to: